Twee Bekende Skrywersusters
in die Anthonius van Rooyen stamboom (Onderskeidelik b1c6d12e2 en e3 )
Engela van Rooyen (wat ook skryf onder die name Engela Linde en Louisa du Toit), is reeds vanaf ouderdom 16 bedrywig met die pen. Sy skryf romans, jeug- en kinderverhale, radiohoorspele, vervolg- en kortverhale. Haar omvangryke ABO- roman Vuur op die Horison was haar honderdste boek. Haar jeugboek Vuvuzela (met 'n sokker-townshiptema) is in Pools vertaal met die oog op die 2010 Sokker-Wêreldbeker.

Hetta Hager (geb. van Rooyen) skryf romans, artikels en kortverhale, maar het
haar veral onderskei deur haar "Kloekgoed"-reeks, synde
opgetekende Noordkaapse (Griekwa)-Afrikaans. Sy tree van tyd
tot tyd op radiotaalprogramme op oor hierdie boeiende
onderwerp. Sy het onlangs afgetree as kurator van Mary
Moffat-Museum in Griekwastad, en skryf nou voltyds tuis.

Renier van Rooyen - stigter van Pep Stores
Die Burger 23 Mei 2010
Renier van Rooyen, stigter van Pep Stores, was Saterdag oorstelp met die teenwoordigheid van ou sakekennisse, vriende en familielede by die bekendstellingsgeleentheid in die Vodacom Golf Village in Bellville. Die sagtebandboek, Renier van Rooyen, Founder of Pep, is deur sy seun, dr. Johann van Rooyen, wat deesdae in Vancouver, Kanada, woon, geskryf. Dit vertel die verhaal van die herkoms van die Van Rooyen-familie, waar en hoe Renier grootgeword het, en hoedat Pep Stores sy ontstaan gekry het. Dit gee ook ’n blik op Van Rooyen se voortdurende stryd gedurende die apartheidsjare en sy lewe in die buiteland.

Volgens Van Rooyen snr., wat reeds in 1981 uitgetree het, is die groot dryfveer agter die boek die finansiële verligting wat die wins uit die verkope daarvan vir die gemeenskapsdiens Community Development Foundation Western Cape sal beteken. Die diens is in 1974 begin toe Van Rooyen ’n skenking van R500000 gemaak het om die lewensgehalte van behoeftige mense op die Kaapse Vlakte te verbeter. Dr. Christo Wiese, voorsitter van Pep Stores en vriend van Van Rooyen, het laasgenoemde as ’n “top-entrepreneur” beskryf.
“Die eerste Pep Stores was ’n klein winkeltjie in Upington. Vandag is daar meer as 130000 mense in 17 lande in diens van die maatskappy.” Volgens mnr. Bazil Weyers, voormalige uitvoerende hoof van Pep Stores, is een van die hoogtepunte wat hy saam met Van Rooyen beleef het toe hulle ’n maatskappy, Pep Stores Peninsula Beperk, wat 51% aandele vir bruin aandeelhouers gegee het, gestig het.